
Suid-Afrika is deesdae 'n veeltalige samelewing met een-en-dertig lewende tale waarvan twaalf amptelike tale is. Die geskiedenis van vertaling in Suid-Afrika behels 'n komplekse tapisserie van tale, godsdienste en kulture, wat in vyf tydperke verdeel kan word. Tussen 1652 en 1795, tydens die Nederlandse handelstydperk, is Nederlandse eentaligheid afgedwing. Daar het in hierdie tydperk min vertaalaktiwiteit voorgekom ten spyte daarvan dat 'n veelheid tale (Nederlands, Frans en Khoisan) gepraat is. Die Gereformeerde Christendom was eweneens die enigste godsdiens wat toegelaat is. Tydens die Britse koloniale tydperk (1795-1803, 1806-1910) het verengelsing die septer geswaai. Vertaling het egter as gevolg van godsdienstige verdraagsaamheid floreer. 'n Verskeidenheid Christelike groepe is toegelaat, tesame met sendelinge se pogings om die Bybel in inheemse tale te vertaal. Dit het volgelinge van Islam en die Joodse geloof ook vrygestaan om hulle godsdiens te beoefen en hulle godsdienstige tekste te vertaal. In die tydperk toe die Britse heerskappy getaan en Afrikaner-oorheersing ontluik het (1910-1961), het Afrikaans die status van 'n kulturele taal bereik, 'n eerste Bybelvertaling ontvang en naas Engels en Nederlands 'n amptelike taal geword. Dit het uiteindelik gelei tot die vestiging van apartheid as 'n politieke stelsel met Wit oorheersing. Bybelvertalings en hervertalings asook literêre vertaling is in inheemse tale voortgesit om die konstruksie van onderskeie kulturele Afrika-identiteite te bevorder. Tydens die Afrikaner-tydperk (1961-1994) het Afrikaans dominant geraak. Die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut is gestig om administratiewe vertaling in Afrikaans te versterk. Nida was invloedryk in vertaalteorie en -praktyk, en baie dinamies-ekwivalente Bybelvertalings is in Afrikaans en ander inheemse tale voltooi. 'n Nuwe uitgawe van die Koran is ook daargestel. Daar is begin om protesliteratuur in wêreldtale te vertaal ten einde die ongeregtighede in die Suid-Afrikaanse samelewing aan internasionale gehore bloot te lê. Die demokratiese tydperk (1994-) het aan elf amptelike tale erkenning verleen. Suid-Afrikaanse Gebaretaal is in 2023 as 'n twaalfde amptelike taal bygevoeg. 'n Vraag na vertalings in tale met 'n gebrek aan terminologie het ontstaan in velde soos administratiewe vertaling, maatskaplike sekerheid, finansies, die reg en medies. Ten einde taalregte te beskerm en taalontwikkeling te bevorder, is die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) gestig. Dit het nasionale taalliggame vir al die amptelike tale daargestel asook vir Khoi, Nama en San. PanSAT het ook Nasionale Leksikografie-eenhede vir elk van die elf amptelike tale by tersiêre instellings regoor Suid-Afrika gevestig. Die Vereniging vir Vertaalkunde in Afrika en sy tydskrif die Journal for Translation Studies in Africa is gestig.
| selected citations These citations are derived from selected sources. This is an alternative to the "Influence" indicator, which also reflects the overall/total impact of an article in the research community at large, based on the underlying citation network (diachronically). | 0 | |
| popularity This indicator reflects the "current" impact/attention (the "hype") of an article in the research community at large, based on the underlying citation network. | Average | |
| influence This indicator reflects the overall/total impact of an article in the research community at large, based on the underlying citation network (diachronically). | Average | |
| impulse This indicator reflects the initial momentum of an article directly after its publication, based on the underlying citation network. | Average |
